Wednesday, August 6, 2008

32 DAE SE STLITETYD: SOLO ROEITOER SEETOE VIA VAAL- EN ORANJERIVIER


Read this and other stories on my new travel blog:
rooflessjourneys
 


Jaco Strydom  eArtikel in WEG

06 /10/ 2005
(Die laaste dag)
Dag 32:

“Van waar kom my lani nou?” vra 'n man by 'n waterpomp naby Beesbank, ongeveer veertig kilometer voor Alexanderbaai.
    “Vaaldam,” sê ek, te moeg om baie te praat.
    “Nou waas daai vaal dam?” vra sy vriend.
    “'n Hele ent stroom op,” verduidelik ek terwyl die stroom my stadig tussen die riete deur vat. Ek begin weer roei.
    “Tot waar?” roep een nou ver agter my.
    “Die see!”
    Gisteraand het ek “per ongeluk” onwettig in die spergebied aan die Namibië kant geslaap. Die aand voor dit in die Richtersveld naby Sendelingsdrif saam met die landspan. Nou is die landspan weg en ek wonder of dit dalk eerder ek is wat weg is. Ek vermoed daar was een of ander fout met die permitte en hoop dat hulle by plan B hou en vir my wag aan die Suid Afrikaanse kant. Ek is vrek lus vir 'n Coke.
    'n Paar kilos verder kry ek die landspan en my vermoede word bevestig. Ek besef weer hoe lekker dit is om 'n landspan te hê. Tot op Augrabies was ek alleen. Party keer het ek vir dae lank geen selfoonopvangs gehad nie. Elke aand iewers op 'n eiland of 'n sandbank langs die water geslaap. Al my kos moes ek saamroei. Water en vis het die rivier gegee. By Prieska kon ek darem 'n steak koop en op Upington het amper die Spur leeg geëet.
    Daar is 'n mesterie aan riviere wat my aantrek. Om elke draai lê 'n nuwe wêreld om te ontdek.
    Riviere lewe. Hoe droeër die omgewing, hoe meer wild is daar in en om die water. Net vandag het ek al visarende, twee otters, ape, 'n likkewaan en 'n paar troppe gemsbokke gesien - op 'n stadium is twee gemsbokke sowat vyftigmeter voor my pensdiep deur die water.
    Om te toer met 'n kajak is relatief eenvoudig. Jy kan genoeg bagasie saam roei om heeltemal selfversorgend te wees vir weke en steeds met redelike gemak afstande van bo 50km aflê. Daar is geen enjins wat raas, petrol suip en breek nie. Geen pap wiele nie. Jy betaal natuurlik vir hierdie luuksheid in sweet.
    Die Vaal en Oranje is relatief veilige riviere. Ek het meeste van die tyd wat ek alleen was op eilande oornag, waarvan daar geen tekort op die twee riviere is nie. Meeste stroomversnellings is klas 1 of 2 wat beteken dat dit min ervaring vra. Daar is 'n paar groterige versnellings reg onder Vaaldam, in die Vredefort koepel anderkant Parys, na die samevloeiing by Douglas en voor en na Augrabies. Die enigste werklike groot stroomversnellings is by Richi falls anderkant Onsseepkans. Hier moes ek ook my kajak en toerusting met toue afsak teen 'n krans om dit in die gorge onder die waterval te kry.
    Ek neem altyd te veel goed saam, so het ek mettertyd 'n klomp blikkieskos, klere, 'n klein driepootstoeltjie en my tent agtergelaat by boere en ander mense langs die pad. Hoe ligter hoe beter en eenvoudiger.
    Die belangrikste toerusting waarsonder ek moeilik sou klaarkom is waterdigte sakke, goeie kaarte, GPS, mediese sakkie, tou, slaapsak, LED koplig, duck tape en Q-bond vir herstelwerk, selfopblaasmatras, waterdigte baadjie, visstok, 'n goeie klein kookstel, my Bybel, “Stroom af in my kanoe” van Willem van Riet en baie energy bars. Sonder muskietgoed en sonbrandmiddel is jy in groot en ongemaklike moeilikheid.
    Die kajak wat my tot hier gebring het is 'n Malachite wat in Suid Afrika vervaardig word deur C-kayak. Dit is 'n relatief goedkoop enkel plastiek toerkajak, 'n bietjie aan die swaar kant, maar baie sterk. Behalwe vir die roer wat gebreek het naby Kanoneiland het die boot hom baie goed gedra - ten spyte van die lae watervlak.
    Oral langs die pad het ek gawe mense ontmoet. By Orkney vra ek 'n paar vissermanne na 'n kampplek. Voor ek my kon kry is die kajak op 'n bakkie se dak en 'n rukkie later eet ek saam met Christo en sy vrou aandete. Tussen Koegas en Prieska leen oom Lieb my sy bakkie om my beursie te gaan soek wat ek die vorige dag verloor het. Ek kry die beursie tussen die riete op 'n eiland onder die brug waar ek die vorige dag my boot gelos en na Prieska geswem het.
    Gawe boere by Grobbelaarshoop gee my slaapplek, bier en braaivleis. Ek praat die Sondag met die kinders by die Sondagskool en die aand bid ek saam met die boere. By Keimoes help Dirk Malan my met die gebreekte roer en gee my slaapplek in die boskamp by Kalahariwater. Ook die mense van Khamkiri bokant Augrabies is baie behulpsaam. Ek ontmoet gawe mense oral langs die Pella 4x4 roete. In baie se oë sien ek die vraag “Is die dominee mal?” en ek wonder self.
    “Hoekom doen jy dit?” is die vraag wat mense die meeste vra en daar is meer as een antwoord. Ek is hou van reis, watersport en kamp. Op 'n dieper persoonlike vlak is die roei toer iets van 'n persoonlike pelgrimstog, 'n kans om stil te wees, te dink en te bid. Die toer is ook 'n geleentheid om geld in te samel en media blootstelling te kry vir ECHO Jeugontwikkeling ons nie-winsgewende organisasie wat uitreik na jongmense in nood in Pretoria. 'n Klomp opgehoopte verlof het gehelp om die droom 'n werklikheid te maak.
    En nou 'n paar kilometer voor Alexanderbaai kan ek amper nie glo hoe werklik die droom sou word nie. Ek dink terug aan al die vrese en vrae voor die tyd. Al die opwinding, die mooi en die moeilikheid tot hier. Twee kilometer se opgehoopte waterhiasinte by Orkney. Nagte se alleen slaap op eilande. Die groot baber by Caboop. 'n Kleurling matriek “after party” net buite Keimoes (hulle het my eers ontdek toe hulle vieruur die oggend my riethuisie se deur oopskop – hulle het baie groter as ek geskrik!). Damwalle , watervalle, stroomversnellings en ander obstruksies. Die immer teenwoordige visarende, otters en likkewane . . . sonsondergange, koue nagte, stilte . . .
    Teen half sewe roei ek die strandmeer binne teen 'n stormsterk Suid-Wester. Enige ander dag sou dit my moedeloos gemaak het. Dit voel of ek die hele 32 dae geoefen het om teen díé wind see toe te roei.
    Koud en sopnat trek ek uiteindelik my kayak op die strand - ek het vandag twaalf uur geroei en slegs veertig minute gerus. Vir die laaste keer is ek alleen. Die gedruis van die see vul die skemer. Ek hoor die klank van 'n duisend stroomversnellings. 
    “Dankie” bid ek, “vir 'n maand se stiltetyd…”


Lees Artikel in WEG

GEAR:
Kayak: C-Kayak Malachite (plastic paddles)
- Very rugged kayak – a bit heavy – rudder broke at Keimoes
GPS: eTrex Venture
Shoes: Hi Tec Tasman
Light: Petzel Headlight
Dry bags: WX TEX
Fishing: Loomis & Franklin Fly rod 9/10

Vir meer inligting, GPS koördinate, afstande ens. mail my by:
jaco@echoyouth.co.za

Read this and other stories on my new travel blog: http://rooflessjourneys.blogspot.co.za/2016

Jaco Strydom MAIN BLOG


Read this and other stories on my new travel blog:
rooflessjourneys
 



Ds. Jaco Strydom van ECHO jeug vertel van sy 32 dae solo roeitoer see toe